Meer as 80% van volwassenes ervaar rugpyn op een of ander stadium in hul lewens, maar net omdat dit so ’n algemene probleem is, beteken dit nie jy kan of moet dit bloot net ignoreer nie.

“So een keer elke paar maande skiet hierdie verskriklike pyn deur my rug en slat my asem weg,” vertel Carola Spies (42), ’n tuisteskepper van Kaapstad. “Vir so drie of wat dae moet ek net in die bed lê, plat op my rug. Al wat ek kan doen is pynpille drink. En dan, whalla, is dit weg asof dit nooit eens gebeur het nie. Ek gaan beslis nie my geld op ’n dokter mors daaroor nie. Dis duidelik net deel van oudword, of my lyf wat vir my sê ‘hokaai, Madam – jy het ’n bietjie rus nodig.”

Valerie Boumann (52), ’n data prosseseerder van Port Elizabeth, het weer die meeste van die tyd ’n dowwe rugpyn. “Ek het nou al gesien oor naweke is dit beter, so ek dink maar dis seker omdat ek in die week heeldag voor my rekenaar sit en min opstaan. Ek drink maar net baie pynpille wanneer dit erg raak en gaan aan. Vrouens het mos nie tyd vir moan of moeite maak vir onsself nie nie!” lag sy.

Dr. Guy Ashburner, ’n osteopaat van Constantia in die Kaap verduidelik die mees algemene oorsake van rugpyn is swak beweging, te same met ’n swak postuur. “’n Swak ergonomiese werk opset, byvoorbeeld as jy heeldag krom sit of slof, is baie sleg vir jou. Vir elke graad wat jou kop vorentoe buig word die druk op jou ruggraat met 6 kg meer. Hoeveel grade sit jy vorentoe om hierdie artikel te lees?” wonder hy.

Nog iets wat kan bydra tot jou rugpyn, is verkeerde bewegings wanneer jy oefen. “Oefeninge wat behels dat jy afrol, oorbuig of jou ruggraat kant toe buig, plaas herhaaldelike druk op jou lae rug en is ’n baie algemene oorsaak van lae rugpyn. Die lys van swak oefeninge of bewegings plaas eindelose spanning op jou ruggraat. As diere hulle opinie moes gee van hoe mense beweeg, veral wanneer ons oefen, sou dit nie baie gaaf gewees het nie!” skerts Dr Ashburner.

Sy belangrikste raad is om jou rug altyd in die natuurlike posisie te hou. “Beweeg altyd deur jou heupe, soos die natuur beplan het, en moenie jou ruggraat gebruik nie. Dit is veronderstel om in ’n stabiele, neutrale posisie te wees. Moenie jou stert onder jou indruk nie. Druk altyd jou agterstewe so ver as moontlik terug in jou stoel. Gebruik jou heupe om iets op te tel en moet nooit jou rug buig nie.”

Indien jy rugpyn het, sê Dr Ashburner ys oor jou lae rug is die beste manier om inflammasie te verlig. Daarna kan jy hitte verder boontoe plaas, maar nooit waar die pyn en inflammasie is nie. “As jy in pyn is, lê op die kant wat nie seer is nie en rus jou laer been op ’n stoel. Dit sal help om die inflammasie vinniger op te los en die druk op jou laer rug verlig.”

Volgens hom is voorsorg altyd beter as nasorg. “As jy ’n geskiedenis van rugpyn het, is dit altyd beter om voorkomende stappe te neem voor die pyn jou tref. As jy lewe met kroniese rugpyn, kan ’n osteopaat jou help om agter die kap van jou pyn-byl te kom en die probleem holisties behandel.”

Osteopatie is ’n “hands on” terapie wat jou persoonlike en mediese geskiedenis in ag neem. Dit sluit dieetkundige, postuur en arbeidsterapie advies in en is ’n praktiese en doeltreffende manier om ’n hele reeks siektes en beserings te behandel.

Jason Roets, eienaar van Jason Roets Physiotherapy in Centurion, Gauteng, vertel hulle sien baie gereeld mense met rugpyn. “Die vier algemeenste oorsake is spierspasmas, ‘pinched nerves’, artritis en rug skyf (back disc) knoppe.”

’n Spierspasma veroorsaak pyn in ’n spesifieke area (afhangende van watter spier of spiere in spasma is). “Dit is gewoonlik as gevolg van iemand wat dit in die gym oordoen of deur alleen iets swaar op te tel,” verduidelik Jason.

’n “Pinched nerve” of vasgeknypte senuwee is wanneer ’n senuwee saamgedruk word in die ruggraat of op die pad af na die bene toe. “Senuwees werk soos ’n tuinslang. Wanneer dit vasgedruk word, kan die seine nie deurgaan nie en wanneer die sein nie by jou spiere of brein uitkom nie, voel jou bene swak, gevoelloos (numb) of asof jy pins and needles het. Dit kan ook seer wees.”

’n Rugskyf knop is wanneer die jel in die middel van jou rug skyf probeer om uit die middel van die skyf in die ruggraat of senuwees in te druk. “Hierdie pyn is skielik en kan plaasvind ná jy swaar goed opgetel of gedra het.”

Artritis word veroorsaak deur “wear and tear” van jou gewrigte oor die jare. “Dit is ’n normale deel van ouer word, maar soms verander dit in artritis. In hierdie geval moet jy by ’n kenner uitkom.”

Volgens Jason is daar twee eenvoudige goed wat jy kan doen om rugpyn te vermy. “Oefen en moenie swaar goed op jou eie optel en dra nie. Oefening maak jou hele liggaam sterker sodat dit onverwagte situasies wat beserings kan veroorsaak, beter kan hanteer. Om baie swaar voorwerpe op jy eie op te tel is die heel beste manier om jou rug te beseer. Vra eerder vir hulp.”

Gelukkig is daar, volgens Jason, drie goed wat jy tuis kan doen om rugpyn te verlig.

Beweeg rond. “Studies wys die beste manier om van rugpyn te herstel, is beweging. Ek stel voor jy loop so normaal as wat jy kan rond. As jou rug te seer raak, stop en rus. Beweeg as jy weer beter voel.”

Vat ’n warm bad. Dit help jou ontspan en maak jou pyn beter.

As jy een en twee probeer het en steeds pyn het, neem ’n pynpil. “Nie iets wat al jare in jou medisynekassie lê nie. Vra jou apteker om iets voor te stel en neem dit volgens die aanwysings.”

Jason waarsku soms is dit nodig om jou huisdokter of fisioterapeut te besoek, veral as jy een of meer van die volgende ervaar:

Jy sukkel om te loop of basiese dinge self te doen want dis net te seer.

Jou bene baie swak voel.

Jy ernstige gevoelloosheid ervaar in jou bene en voete.

Die pyn skielik en onverwags kom en jy nie weet wat dit veroorsaak het nie.

Jy pynpille nodig het net om deur die dag te kom.

Die pyn vir langer as twee weke aanhou.

Dit nie die eerste keer is wat jy hierdie tipe rugpyn ervaar nie.

Fisioterapeut Caryn Adam van Strand in die Wes-Kaap verduidelik rugsorg op ’n daaglikse basis is die beste manier om rugpyn te voorkom. “Bly aktief, moenie jou rug oorlaai nie en maak seker jou lessenaar of kantoor-ontwerp en slaap posisies is korrek omdat hierdie plekke is waar jy gewoonlik die meeste tyd spandeer. Spesifieke rug-oefeninge is ook ’n wonderlike manier om pyn te vermy. Veral as jy sukkel met rugpyn stel ek voor jy gebruik 10-minute elke dag, vyf dae ’n week om jou stabiliserende spiere wat jou ruggraat ondersteun, sterker te maak. As hierdie spiere eers sterk is, sal jou pyn dramaties verminder.”

Hoewel rugpyn baie algemeen is, is daar gelukkig doeltreffende oplossings. Jy hoef nie jou hele lewe in pyn of op pyn-medikasie te spandeer nie. Hou op om nog ’n week te wag en kyk of dit beter word. Kry hulp!

KASSIE: Kinders met rugpyn

Caryn waarsku kinders moenie rugpyn kry nie. “As hulle iets swaar gedra het, soos ’n rugsak, of iets swaar opgetel het, is dit normaal om vir ’n dag of twee pyn te hê, maar hulle herstel gewoonlik baie vinnig. As dit nie na twee dae beter is nie, besoek jou huisdokter.”

Jason stem saam. “Rugpyn in kinders is abnormaal en moet altyd ernstig opgeneem word.”

Dr. Ashburner sê dit hang af van hoe oud die kind is. “Dit is belangrik om van kleins af goeie postuur-gewoontes en gesonde oefening gewoontes aan te leer. As ouer, maak seker hul tasse is nie te swaar nie. Studies het al gewys swaar skooltasse, gekombineer met growth spurts, kan lei tot skoliose.

Source Gesondheid Deur Marteli Brewis


View a list of common complains that Osteopathy can assist with

Discovery the benefits of Osteopathy